As jy in my oë in staar
En my oer oue siel beloer,
Dan kan jy sien dit is waar.
Jy staar na die gees van ‘n boer.
Al woon ek nou in ‘n stad
En hier is nou my loopbaan,
Stap my gees nog met ‘n lat
En jaag die beeste rustig aan.
Hard het my volk geword
Deur die dorings van die land,
Maar altyd kos in ons bord
En die Here aan ons kant.
Swaar is hierdie lewe nou,
Maar my boerehart is sterk.
Net aan God bly ek trou,
Saam sal ons die land bewerk.
Al sê mense ons het verander
En die boer is daarmee heen.
Op ons biltong is nog koljander
En ons bid nogsteeds vir reën.
Luister na die woorde uit my mond
En kyk nog eenkeer vir oulaas.
Sien, diep in elkeen van ons se grond,
anker ons wortels aan ‘n plaas.
Written by Louis van Niekerk on 24 June 2010